
=====================================================================
Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Kroniek van twee gesprekke

Otto Terblanche   het twee hoogtepunte beleef op 'n vir hom betekenisvolle besoek aan Nederland.

DIT gebeur nie aldag dat 'n universiteitsdosent se boek in 'n buitelandse ambassade bekendgestel word nie -- veral nie as die boek boonop 
in Afrikaans geskryf is nie. Met my onlangse navorsingsbesoek aan Nederland het hierdie voorreg my te beurt geval.

Ek het dit goed gedink om voor my vertrek uit Suid-Afrika kontak op te neem met Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, mnr. Carl Niehaus, 
ten einde 'n eksemplaar van my boek aan hom te oorhandig.

Die boek Nederland en die Afrikaner: Gesprek oor apartheid, wat onlangs by die Universiteit van Port Elizabeth verskyn het, handel onder 
meer oor die kritiese dialoog en oop gesprek tussen die twee "broedervolke" oor die apartheidsbeleid, veral in die jare sestig. Die twee 
verwante volke het egter by mekaar verby gepraat.

Mnr. Niehaus het dadelik positief gereageer, veral omdat die onderwerp en tydperk hom nog altyd gefassineer het. Hy het met groot 
belangstelling kennis geneem van die boek en daarna uitgesien om my analise van die vervreemdingsproses te lees, het hy ges.

Die boekbekendstelling by die ambassade by Wassenaarseweg 40, Den Haag, het op 14 September plaasgevind. Ambassadeur Niehaus het die waarde 
van Afrikaans onderstreep, maar beklemtoon dat Suid-Afrika 'n Afrikaland is en dat ons heil dr l. Dit is ook belangrik dat die 
multikulturele karakter van Suid-Afrika in Nederland bemark word.

Niehaus het dit duidelik gemaak dat die kulturele verdrag tussen die twee lande so ontwerp is dat dit nie tot die eksklusiewe bevordering 
van Afrikaans lei nie, maar tot die bevordering van kulturele uitwisseling tussen Nederland en alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Die 
verhouding tussen die twee lande sluit dus 'n eksklusiewe verhouding tussen Nederland en die Afrikaanssprekendes uit. Nie-rassigheid, 
veeltaligheid en die multikulturele aard van die Suid-Afrikaanse samelewing sal voortaan die toon aangee wat die skakeling met die Lae 
Lande betref.

Nadat Carl Niehaus in 1997 as ambassadeur aangestel is, het hy die normalisering van die kulturele bande bepleit. Vir hom was dit belangrik 
dat die verskillende komponente in ons kulturele geskiedenis gelyke aandag kry: die koloniale tydperk, die taalbinding en die periode 
waarin Nederland aktief betrokke geraak het by die bevrydingstryd. Sy uitgangspunt was dat Suid-Afrika geen Europese land is nie, maar dat 
ons van Afrika is. Die feit dat Nederland al hoe meer 'n multikulturele karakter kry, dra by tot die vele aanknopingspunte.

Die geleentheid in Den Haag waar ambassadeur Niehaus 'n eksemplaar van die boek ontvang het, is bygewoon deur verteenwoordigers van die 
Nederlandse regering, die Suid-Afrikaanse en die Nederlandse pers, en van Nederlandse organisasies betrokke by Suid-Afrika. Nederlandse 
historici was ook teenwoordig. 'n Lewendige groepbespreking is gevoer.

'n Week n die boekgeleentheid het ek op uitnodiging van Niehaus middagete saam met hom gehad in die Julien restaurant in Den Haag. Reg 
oorkant die restaurant is die Hotel Des Indes, Lange Voorhout. Hier het pres. Paul Kruger van 9 Desember 1900 tot 21 Januarie 1901 gewoon.

Niehaus het verwys na Kruger se destydse verblyf in die hotel oorkant ons. Ek het diep onder die indruk gekom van die historiese parallel. 
By my sit 'n jong Afrikaner vryheidstryder wat geveg het teen die onreg van apartheid en oorkant ons is die hotel waar 'n bejaarde 
Afrikaner vryheidstryder, wat geveg het teen die onreg van Britse imperialisme, byna 'n eeu gelede tuisgegaan het.

Ek en Niehaus het 'n lang en openhartige gesprek gevoer oor Nederlands/Suid-Afrikaanse betrekkinge. Ek is getref deur sy toewyding, 
hardwerkendheid en integriteit. Hierdie gesprek was een van twee hoogtepunte van my Nederlandse besoek.

Toe wis ek nie dat 'n verdere hoogtepunt nog voorl nie, naamlik 'n ontmoeting met Elisabeth Eybers. Ena Jansen, wat 'n paar maande in 
Amsterdam is om 'n reeks lesings aan te bied, sou as tussenganger optree. Aanvanklik het dit nie bemoedigend gelyk nie. 0p 83 is Eybers se 
gesondheid nie elke dag na wens nie.

Uiteindelik bring Ena die goeie nuus. Ons kan Eybers spreek op 2 Oktober om 10 vm. -- die voorlaaste dag van my maand lange besoek. Die 
eerste winterkoue in Amsterdam het di dag ook sy opwagting gemaak. Ena het per fiets by Eybers se woonstel opgedaag met haar gesig halfpad 
toegewikkel in 'n mus.

Elisabeth Eybers het di dag pragtig gelyk in haar koningsblou trui - heel gepas vir die koningin van die Afrikaanse digkuns. Ons is gasvry 
ontvang met heerlike koffie en dadelkoek. Ek is bly dat ek met di besoek 'n mooi foto van Ena en Eybers kon neem, want vanjaar verskyn die 
Nederlandse vertaling van Ena Jansen se indrukwekkende werk, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam.

In 'n slothoofstuk van my boek het ek 'n oorsig gegee van Nederlands/Suid-Afrikaanse betrekkinge tot op hede. Aandag word veral geskenk aan 
die positiewe ontwikkelinge en groter akademiese skakeling en kulturele binding wat n 1990 ingetree het, veral wat die taalbande betref. 
Binne hierdie kader neem Eybers se posie 'n unieke posisie in. Soos Ena dit bewoord het: "Die unieke van haar posie is dat sy dit 
reggekry het om van die yl lugbrug tussen twee stamverwante tale wat deur eeue en kontinente van mekaar geskei is, 'n stewige loopplank te 
maak."

In die lig hiervan het ek dit goed gedink om 'n eksemplaar van my boek aan Eybers te oorhandig uit waardering en agting vir haar bydrae as 
brugbouer tussen Afrikaans en Nederlands -- 'n gebaar wat sy opreg gewaardeer het. Eybers het inderwaarheid van Afrikaans 'n brugtaal 
tussen Europa en Afrika gemaak, in so 'n mate dat sy in al twee lande onder hul grootste digters gereken word.

Eybers staan bekend as 'n geslote mens, iemand wie se privaatheid jaloers beskerm word. N my besoek onderskryf ek Ena Jansen se siening 
van Eybers: "Sy is uiters meelewend, uiters mededeelsaam oor persoonlike verhoudings, skroom nie om haar menings oor mense en dinge met jou 
te deel nie ... Elisabeth hou daarvan om oor mense en hulle emosies te praat. Oor ervarings en verhoudings ... Ook hou sy daarvan om oor 
praktiese alledaagse dinge te praat ..."

Ek het Eybers besonder simpatiek gevind met 'n opregte belangstelling in haar medemens. Sy stel jou dadelik op jou gemak en vra 
belangstellend uit. Sy is beskeie en het 'n besondere humorsin. Sy is lief vir die lewe. Ons gesprek was wydlopend: van Verwoerd tot Beyers 
Naud en van Mandela tot Carl Niehaus. En natuurlik haar kommer omdat daar so baie Engelse woorde en uitdrukkings in Nederlands n 
Afrikaans voorkom. Die ruimheid van haar gees val op. Ek beny vir Ena Jansen, wat al meer as twintig jaar met Elisabeth Eybers bevriend is. 
Wat 'n voorreg!   Dr. Otto Terblanche is verbonde aan die Departement Geskiedenis van die UPE.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5510.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

